top of page

Sport

By Laerskool Bastion word deelname aan sport aangemoedig, want ons glo dat 'n gesonde liggaam 'n gesonde gees huisves.  'n Groot verskeidenheid sportkodes word aangebied.  Daar is iets vir elkeen!

Krieket

2025_02_20_15-33-33.JPG
BastionCricket1.jpg
2025_02_20_17-01-05.JPG

By Laerskool Bastion vestig ons 'n liefde vir krieket. Krieket word as 'n somersport gespeel in Kwartaal 1 en Kwartaal 4. Alhoewel krieket hoofsaaklik deur die seuns gespeel word, is daar 'n paar meisies wat saam met die seuns speel.  Bastion bied mini-krieket aan vir o.7- tot o.9-leerders en seniorkrieket met 'n volle span van 11 spelers vanaf o.10 tot o.13, waar Bastion 3 spanne in elke ouderdomsgroep het.

Bastion beskik oor twee velde waarop krieket gespeel kan word en daar word weeklikse wedstryde tydens die krieketseisoen gespeel.

Lede van ons o.11A-krieketspan, asook lede van ons o.13A- en B-span, neem elke jaar deel aan 6-a-side toernooie in hul onderskeie ouderdomsgroepe. 

Tydens die skoolvakansie aan die einde van die derde kwartaal berei ons o.13A's voor vir die komende seisoen deur Knysna toe te toer vir die jaarlikse o.13 Cretchley Krieketfees, waar hulle krieket speel teen spanne wat ander spanne is as dié teen wie daar by die huis gespeel sou word.  Op hierdie toer gaan dit egter nie net oor krieket nie, en die spelers word blootgestel aan die besienswaardighede van die area om sodoende hul lewenskennis te verreik.

Tennis

BastionTennis1.jpg
BastionTennis2.jpg
Tennis6.jpg

By Laerskool Bastion word tennis aangebied vir seuns en meisies.  Alhoewel tennis een van die kleiner sportsoorte wat  by Bastion is, word dit steeds met passie aangebied en gespeel.  Oor die jare het Bastion al verskeie provinsiale tennisspelers opgelewer.

Atletiek

Athletics5.jpg
Athletics4_edited.jpg
Athletics6.jpg

Bastion moedig massadeelname aan met ons jaarlikse interhuis-byeenkoms, waar alle leerders die geleentheid kry om hul atletiekvaardighede ten toon te stel. Ons neem ook deel aan die Top 3-byeenkoms saam met twee buurskole.

​

Tydens die 2025-atletiekseisoen het ons 70 atlete gehad wat aan die Sone 2-byeenkoms deelgeneem het, van wie 15 gekwalifiseer het vir die WP-kampioenskappe.  Twee het daar Wes-Kaap kleure ontvang en sal aan die SA-kampioenskappe deelneem.

​

Bastion bied ook 'n atletiekbyeenkoms tydens die vierde kwartaal aan en skole van regoor die Westerlike Provinsie stuur hul beste atlete om daaraan deel te neem.

Landloop

Landloop8.jpg
Landloop9.jpg
Landloop10.jpg

Landloop is 'n wintersport.  Ons landloopspan het baie gegroei die laaste paar jare en elke leerder wat saam wil hardloop, is welkom om saam te kom oefen, ongeag die ouderdom, al begin die liga eers by o.9.  As jy 'n lekker langasem het en jouself teen die beste van ander skole wil meet, of as jy net lekker fiks wil word, dan is landloop vir jou.  Ons landloopspan hardloop in verskillende omgewings, wat maak dat die terrein sal verskil.  Geen twee wedlope is dieselfde nie, en dit maak dit vir ons leerders lekker.

​

Ons oefen drie keer per week, met die ligawedlope wat op Vrydae plaasvind.  Afstande wissel tussen 2 km en 4 km, afhangende van die ouderdomsgroep.

 

Bastion se landloopspan hou Bastion se naam hoog, met 4 atlete wat die WP-span gehaal het in 2024. Twee van hulle het daarna ook die Wes-Kaapspan gehaal.  In 2025, het 7 atlete die WP-span gehaal.

Netbal

BastionNetballo10A.jpg
2025_08_27_16-40-01.JPG
2025_08_27_15-02-18.JPG

By Laerskool Bastion glo ons dat netbal vir elke dogter is. Ons bied spanne aan vanaf o.7 tot o.13, met A- tot E-spanne, sodat elke leerder die geleentheid kry om haar talente te ontwikkel tot die beste van haar vermoë en aan wedstryde kan deelneem.

Ons span van toegewyde afrigters en ondersteuners skep ’n omgewing waar spanwerk, dissipline en sportmanskap die kern vorm.

 

Elke jaar neem ons o.12- en o.13-spanne deel aan opwindende toere. Die o.13 A-span verteenwoordig Bastion trots by die jaarlikse Wildeklawer-toernooi in Kimberley, terwyl ander spanne aan verskeie toernooie regoor die provinsie deelneem.

 

Bastion se netbal vaar uitmuntend in die liga. Ons o.10 tot o.13 A-spanne behaal jaarliks die uitspele, net een tree weg van deelname aan die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskappe. Ons is ook trots daarop dat verskeie van ons leerders jaarliks gekies word vir die Wes-Kaap Skolespanne, waar hulle Bastion se naam met trots hoog hou.

 

By Bastion is netbal meer as net ’n sport – dit is ’n plek waar drome begin en kampioene gevorm word.

Rugby

2025_08_27_14-19-39.JPG
2025_08_27_17-26-29.JPG
2025_08_27_16-02-22.JPG

Laerskool Bastion is 'n skool met ongeveer 330 seuns wat weekliks hul passie vir rugby op die veld uitleef.  Bastion se spanne neem deel aan verskeie toernooie, en presteer goed in elkeen van hierdie toernooie. Ons o.13A-span is in 2025 vir die tweede agtereenvolgende jaar onoorwonne by die spog Wildeklawertoernooi in Kimberley.

​

Die senior spanne onderneem gereeld toere om teen ander skole in die land, kragte te meet.

​

Graad 1-3 speel mini-rugby, op 'n kleiner veld, terwyl ons seuns van graad 4-7 die volveld 15-manspel speel.  Die seniors neem ook deel aan 7’s-rugby.

​

Gereeld word Bastion verteenwoordig met seuns wat die WP-spanne vir rugby haal.  In 2025 het Bastion vier o.13-seuns gehad wat provinsiale kleure verwerf het, asook een o.12-seun.

Hokkie

2025_08_22_14-05-04_edited.jpg
2025_08_22_14-42-53.JPG
BastionHockey1.jpg

Laerskool Bastion bied veldhokkie aan vir beide seuns en meisies van o.7 tot o.13 en neem deel aan die WP Premier Hokkieliga. Ons juniors speel mini-hokkie, soos toepaslik vir hul ouderdomsgroepe, terwyl ons o.13's volveld hokkie speel, met 'n volle span van 11 spelers. Ons is bevoorreg om oor ons eie volgrootte-astroveld te beskik, wat die beste moontlike omgewing vir oefening en kompetisie bied. Al ons spelers, van o.7 tot o.13, oefen en speel wedstryde op ons astro. Ons gestruktureerde program ontwikkel talent op elke vlak, met talle spelers wat sonale en provinsiale spanne haal.

 

Ons o.13's sien elke jaar uit na 'n leersame toer, wat ontwerp word om meer as net 'n hokkie-ervaring te wees, maar ook 'n opvoedkundige doel te hê deur interessante, pret en leersame ervarings vir die leerders te bied. 

Boogskiet

BastionArchery1.jpg
BastionArchery4.jpg
Archery6.jpg

Boogskiet by Laerskool Bastion is ’n sport wat steeds groei en groot belangstelling onder ons leerders en gemeenskap wek. Sedert 2019 is ons boogskietspan konsekwent onder die top drie laerskole in Suid-Afrika, ’n prestasie waarop ons baie trots is en wat die toewyding van ons jong atlete weerspieël. Bastion is ook trots om jaarliks verskeie leerders én personeel te hê wat in provinsiale spanne opgeneem word.

 

Alhoewel die kompetisies gedurende die Covid-jare onderbreek is, het die passie vir boogskiet by Bastion net sterker geword, met al hoe meer leerders wat elke seisoen die pyl en boog opneem.

​

Boogskiet bied egter baie meer as net kompetisie. Dit slyp fokus, dissipline en geduld – vaardighede wat direk in die klaskamer toegepas kan word. Vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes skep boogskiet ’n inklusiewe omgewing waar hulle selfvertroue kan bou en hul koördinasie kan verbeter. Die sport leer veerkragtigheid, verantwoordelikheid en spanwerk – en dit alles terwyl dit pret bly! By Bastion is boogskiet meer as net ’n sport; dit is ’n hulpmiddel wat ons leerders bemagtig om hoog te mik, op die baan én in die lewe.

Skaak

2025_08_23_08-36-12.JPG
2025_08_23_08-41-57.JPG

Skaak is groot pret, en so saam met die speel word analitiese, wiskundige denkpatrone aangeleer en geslyp.  Waar ander sportsoorte die spiere slyp, slyp skaak die breinkrag - net so belangrik vir ons kinders! In die afgelope paar jaar het Bastion drie tuinskaakstelle vir die leerders gekoop sodat hulle pouses ook skaak kan speel.

​

Bastion skaak is gesond, sterk en aan die groei. Ons verwelkom alle leerders wat belangstel om skaak te speel en om kompeterend te wees. Ons het 'n professionele skaakafrigter, mnr. Calvin Klaasen, wat betrokke is by TOMCA skaakakademie en speel self op nasionale vlak. 

 

In 2024 het ons o.13A-span by Top Skole in Oudtshoorn gespeel en eindig as die naasbeste o.13-skaakspan in die Wes-Kaap. Hulle eindig ook as kampioene van die o.13-afdeling vir die Kaapstad Skaakliga 2024. 

​

Ons spanne neem deel aan verskeie toernooie, wat aanlyntoernooie insluit. Ons beskik oor klokke sodat ons leerders speeltoestande het wat toernooie simuleer.

 

TOMCA bied ook gereeld private skaaksessies aan by Bastion wat ons leerders vreeslik geniet.

2025_08_23_08-35-34.JPG

BassieBots

Robotics2.jpg
Robotics1.jpg
Robotics1.jpg

BassieBots is Laerskool Bastion se na-ure robotika- en koderingklub, wat dwarsdeur die jaar aktief is.  Hier werk leerders met die Lego-Spike platform om 'n robot te bou en dit te programmeer, met die hulp van iPads.  Daar word ook aan kompetisies deelgeneem, soos die WRO (World Robot Olympiad) waar ons in 2025 twee spanne gehad het wat deurgedring het tot die nasionale rondte van die kompetisie in Pretoria. Albei spanne het daar silwer toekennings ontvang. 

 

Deur deel te wees van BassieBots leer ons leerders nie net die toekomsgerigte tegniese vaardighede om 'n robot te bou, programeer en gebruik nie, maar ook aanpasbaarheid en om as 'n span te kan saamwerk.

© Laerskool Bastion Primary School 2025

bottom of page