Kultuur
Laerskool Bastion bied met trots 'n wye verskeidenheid kulturele aktiwiteite aan, en ons leerders presteer op al hierdie terreine.
Drama
Ons toneelprogram is vir ons soveel meer as net 'n verhoogproduksie. Ons ontwikkel selfvertroue, kreatiwiteit en karakter. Deur drama word leerders die geleentheid gebied om hul verbeeldings te verbreed, hulself vrylik uit te beeld, en broodnodige lewensvaardighede soos kommunikasie, spanwerk en probleemoplossing te ontwikkel.
Ons fokus daarop om elke kind se unieke talente te koester terwyl ons hulle terselfdetyd aanmoedig om buite hul gemaksones op te tree, binne die veilige en ondersteunende omgewing wat ons vir hulle bied.
Ons leerders kry die geleentheid om aan toere en opvoerings deel te neem, waar hulle hul vaardighede buite die skool ten toon kan stel en hulle word aan 'n verskeidenheid gehore blootgestel. Hierdie toere is nie net pret en lonend op hul eie nie, maar gee vir ons leerders kans om in verantwoordelikheid, aanpasbaarheid en veerkragtigheid te groei. Laerskool Bastion is 'n gerespekteerde deelnemer wat al verskeie toekennings ontvang het by feeste soos die Logan-toneelfees op Fraserburg, en Montagu se toneelfees, asook verskeie plaaslike feeste wat ons eie Silwervaringfees insluit.
Of 'n leerder droom van 'n loopbaan in die kunste, of slegs selfvertroue wil bou, Laerskool Bastion bied die toerusting en ervarings wat nodig is om op die verhoog of van die verhoog af, helder te skyn. Hier lei ons nie net mense wat optree op nie; ons vorm sterk, gebalanseerde individue.


Musiek
By Laerskool Bastion is ons passievol daaroor om 'n lewenslange liefde vir musiek te kweek. Ons Musiekdepartement bied 'n omvattende program wat teorie, stemafrigting, klavier, kitaar, blokfluit, asook 'n marimba- en slagorkes insluit.
Leerders word aangemoedig om hul talente te slyp deur deelname aan eisteddfods en gereelde optredes, asook individuele praktiese en teorie-eksamens deur Trinity College London.
Ons ervare opvoeders bied gestruktureerde, hoë kwaliteitopleiding terwyl hulle terselfdetyd kreatiwiteit, dissipline en selfvertroue in elke jong musikant ontwikkel.

Koor
By Laerskool Bastion glo ons dat musiek ’n sleutelrol speel in die vorming van ’n kind se selfvertroue, dissipline en spanwerk. Ons kore bied nie net ’n geleentheid om sangtalent te ontwikkel nie, maar ook om leerders die vreugde van saam sing en die waarde van samewerking te laat ervaar.
​
Ons senior koor bestaan jaarliks uit sowat 80 tot 100 lede onder leiding van Mev. Buys, met begeleiding deur Mev. Turketti. Hierdie koor tree gereeld op by konserte, koorfeeste en eisteddfods en het reeds ’n gevestigde reputasie vir uitstaande kwaliteit. Tydens die 2025 koortoer het meer as 50 van ons seniorkoorlede ’n toer na Montagu beleef. Vir vier dae het hulle opvoedkundige uitstappies geniet en terselfdertyd die gemeenskap bedien deur op te tree by skole, kerke en aftree-oorde.
​
Ons junior koor met sowat 90 lede onder leiding van mev. Von Solms en begeleiding deur mev. Buys, het vanjaar groot sukses behaal deur ’n Cum Laude-toekenning by die Parel Vallei Eisteddfod te verower. Hierdie prestasie beklemtoon die hoë standaard en toewyding waarmee ons jongste koorlede werk.
​
Beide kore is die trots van Bastion. Jaarliks vermaak en inspireer hulle gehore met hul kwaliteit en entoesiasme. Ons kore sing nie net liedere nie, maar bou karakter, vriendskappe en herinneringe wat hulle altyd sal bybly.



Redenaars
Redenaars is leerders wat die vaardigheid van openbare redevoering oefen en ontwikkel, waar hulle leer om hul gedagtes duidelik, met selfvertroue en oorreding aan 'n gehoor te stel.
By ons skool, bied ons redenaars aan omdat dit leerders help om noodsaaklike kommunikasievaardighede te bou, verbeter hul selfvertroue en leer hulle om krities oor 'n verskeidenheid onderrwerpe te dink. Dit moedig ook kreatiwiteit aan, verbeter woordeskat, en leer die leerders om te luister en met respek die idees van ander te debateer.
Deur aan redenaars deel te neem, berei leerders nie net voor vir akademiese sukses, maar ontwikkel ook vaardighede wat hulle lewenslank hulle sal bybly en tot hul voordeel sal wees in leierskap, spanwerk en in hul toekomstige loopbane.
​
Gereeld is daar Bastion-leerders wat nie net provinsiaal uitblink nie, maar ook nasionaal. So het ons vanjaar twee leerders gehad wat aan die ATKV-Redenaars nasionale finaal deelgeneem het, waarvan een 'n vierde en die ander een 'n agtste plek in die land verower het. Verskeie leerders neem ook deel aan die nasionale kompetisies van Oppie Tong Af, Radikale Redenaars en Kansvatters, waar hulle puik uitslae behaal, waar ons vanjaar by Radikale Redenaars twee eerste plekke behaal het.

Eisteddfod
Laerskool Bastion se leerders kry jaarliks die geleentheid om aan die Tygerberg Internasionale Eisteddfod deel te neem in 'n wye verskeidenheid afdelings. Nie net neem hulle deel aan musiekitems nie, maar ook hul dramatalente word ten toon gestel.
​
Verskeie talentvolle leerders word deur hulle opvoeders geïdentifiseer en ingeskryf vir items soos netjiese skrif, onvoorbereide lees, gedigte voordra, monoloë opvoer en skeppende skryfwerk. Jaar na jaar behaal Bastion se leerders puik uitslae wat verskeie kategoriewenners insluit.

Silwervaring Kunstefees
In September van elke jaar is Bastion trots om die Silwervaring Kunstefees aan te bied, 'n jeugkunstefees wat in 2017 begin is deur die skeppende kunste-departement van Bastion. Oor die jare het hierdie fees gegroei tot een van die grootste jeugkunstefeeste in die land, wat deelnemers van dwarsoor Suid-Afrika lok.
​
Wat begin het as net 'n toneelfees, het sedertdien 'n koorfees en ' n redenaarsafdeling bygevoeg. Beoordeling word deur beoordelaars van die uitvoerende kunste-industrie behartig, wat waardevolle terugvoer aan die jong deelnemers verskaf.
Kunswerke van Bastion-leerders word ook tydens hierdie gebeurtenis uitgestal.


