top of page

Akademie

Algemeen

Laerskool Bastion is 'n staatskool wat die KABV-leerplan en vakke vir 'n laerskool volg, met kuns en musiek wat as skeppende kuns-opsies in graad 7 aangebied word.  Verder neem alle leerders isiXhosa en ontvang rekenaaropleiding vanaf graad 1 tot 7.

 

Ons bekwame opvoeders gebruik tegnologie om leermateriaal vir die leerders opwindend en toeganklik te maak.  Benewens dit wat in die klaskamer gebeur, laat ons personeel die leermateriaal leef deur waar moontlik, die materiaal op 'n praktiese wyse vir die leerders toeganklik te maak.  So bou ons leerders modelle van wetenskap- en tegnologiebeginsels, beleef die wetenskap en wiskunde met praktiese ervarings op die skoolterrein, en moedig 'n liefde vir lees en taal aan met ons jaarlikse boekeweek.  Graad 7's pas hulle kennis van EBW toe met hul jaarlikse entrepreneursdae.

​

Ons graad 6- en 7-leerders kry die geleentheid om die natuur en mekaar beter te leer ken op ons jaarlikse graadkampe, waar daar op spanwerk en kreatiwiteit gefokus word, terwyl die leerders ook uitgedaag word om buite hul gemaksone te ontwikkel. 

​

Ons grondslagfase kry jaarliks 'n teaterervaring met 'n besoek aan die Kunstekaapteater om 'n Vlooivertoning te kyk.  Ons graad 4's het vanjaar ook die Suid-Afrikaanse museum in Kaapstad besoek om hul SW meer werklik te maak.

Olimpiades

Laerskool Bastion bied ekstra geleenthede vir ons leerders om hulself te verreik.  Een van die maniere waarop dit gedoen word, is om leerders in te skryf vir olimpiades.  Ons top leerders word ingeskryf vir die AMESA-olimpiade in Wiskunde.  Leerders word ook ingeskryf vir die Kangaroo-, Media24- en Horison-wiskundekompetisie, asook die Conquesta-olimpiades in Wiskunde en Huistaal.

 

Ons gee graag aan ons jonger leerders ook die geleentheid om hulself op hierdie manier te verryk en daarom neem die grondslagfase aan die Conquesta-olimpiade in Wiskunde deel.

© Laerskool Bastion Primary School 2025

bottom of page